Gegrond op ‘n vraag deur ‘n goeie vriendin oor of en wanneer mens dan nou reg is vir saambly en wat jy moet maak as dit skeef loop om “heel” anderkant uit te kom
Hier is die antwoord – druk uit, knip uit en plak op jou yskas
Ek dink daar is 3 fases verbonde aan die ding
1. -Wat kan ek doen voor ek myself in die ding begewe?
2. -Wat kan ek doen om seker te maak dit werk?
3. -Wat maak ek as dit wel verkeerd gaan?
Fase 1 en 2 moet julle maar gaan hulp soek by Dr Phil en sy verwante. Vir fase 3 raai ek die volgende aan:
1. Maak seker die belangrike goed is in jou naam bv die huurkontrak, die DSTV subskripsie, die kar ens
2. Maak seker die onbelangrike goed is nie in jou naam nie soos die lening op die kar, die eiendomsbelasting op die huis, die DSTV rekening.
3. Moenie goed saam koop nie, koop jy die goed wat jy wil hou maak nie saak wat gebeur nie soos bv die stoof en yskas en laat die ander een die goed koop wat julle in elk geval gaan wegsmyt as goed nie werk nie soos die vibrator, die bed ens.
4. Koop ‘n polisieman (ding wat jy binne sekondes in ‘n slot sit sodat die oorspronklike sleutel nie werk nie). Dit is vinniger en goedkoper as nuwe slotte.
5. Maak seker julle kuier net saam met jou vriende en skeep soveel moontlik die ander af sodat jy ‘n ondersteuningsraamwerk het wanneer dit nodig is en nie hy/sy nie.
6. Neem ‘n paar fotos wat jy as afpers materiaal kan gebruik as dit nodig is. Soos byvoorbeeld wanneer jy die oorsaak is van die opbreek en jy moet verwarring skep daaroor.
