Op die grens gaan dit nie altyd goed nie en so vang die terroriste my en Frits een oggend. Hulle sluit ons toe op in ‘n beeskraal saam met ‘n klomp beeste om ons sag te maak.
Nou moet jy weet dit is net beeskak en bosluise waar jy kyk. Bedags jaag die Duitsers die beeste uit dan sit ons in die beeskak en bosluise. Ons leef net van koeimelk en bosluise want die Duitsers gee ons nie kos nie. Elke aand dan suip ons man man ‘n koei leeg. Ek het so ‘n spesifieke ou koei gesuie dat as sy later in die kraal inkom loop sy al wye bene en dan sak die melk dat dit so ‘n streep agter haar aansleep. Sy kom staan dan bo-oor my dat ek aan haar kan suie. Ek sê een oggend vir Frits ons moet ontsnap want ons gaan vrek in die kraal van cholesterol van al die volroom melk en rooivleis. Ons slag toe die nag ‘n bees en trek die vel bo-oor ons sodat ons nes ‘n bees lyk en ruik. Frits moet voor in die kop staan, want hy het die brains en ek vat die agterkant want ek het die exhaust.
Die volgende oggend jaag die Duitsers ons uit die kamp uit en toe die koeie begin draf toe trot ons maar saam. Ek steek my hand so nou en dan tussen my bene deur dan waai ek die vlieë met die stert weg. Frits beur net vorentoe en ek moet hardloop om by te bly. Later toe my asem al jaag en my kop al nader op die grond sleep toe loer ek tussen my my bene deur of ons al ver genoeg weg is. Ek sien toe hier kom groot moeilikheid en ek sê vir Frits “Jy moet hardloop, die bul kom vir ons!”
