Na ‘n lekker lang nag in die Akker stap ‘n Stellenboschse student huis toe langs die Eersterivier. Dis vroeg Sondagoggend, en ‘n groepie kerkgangers staan in ‘n ry en sing. Die student val sommer instinktief agter in die ry in.
Vooraan staan ‘n lekeprediker halflyf in die water, en doop die mense soos hulle verbykom. Een vir een druk hy hulle koppe agteroor in die water, lig hulle weer op, en vra: “Sien jy vir Jesus?” Die mense se oë blink in ekstase, en elke “ja” word begroet met met ‘n koor van vreugdevolle “halleluja”. Uiteindelik kom die student ook aan die beurt, en na al die ure in die Akker is dit nie moeilik om sy kop onder die water te kry nie.
“Sien jy vir Jesus?” roep die prediker.
“Nee,” antwoord die student.
Weer druk die prediker sy kop onder die water, hierdie keer met meer oortuiging, lig hom regop, en vra: “Sien jy vir Jesus?”
“Nee,” antwoord die student weer.
Vir die derde keer verdwyn sy kop onder die water, en die prediker wik en weeg duidelik voor hy die bedremmelde student weer regop help.
“Sien jy vir Jesus?” roep die prediker, hard genoeg om dit duidelik te maak dat hierdie keer net een regte antwoord gaan wees.
“Verdomp nee, ek sien hom nie!” skree die student, wat nou ‘n vrees vir water ontwikkel het, terug. “Is jy blerrie seker dis hier waar hy ingeval het?”
