Wanneer laas was julle by ‘n Ram partytjie?
Tot gisteraand(Saterdag) sou my antwoord baie lank gelede – soos in rooikappie en die wolf “baie baie lank gelede” gewees het. Die voordeel van jong vriende is dat jy weer ‘n beurt kry in die boulbeurte wat eintlik al verby is vir jou. Ek verbeel my ook die formaat het bietjie verander van jare terug na nou toe – dink kleur TV(ek is nie so oud nie!) na HD TV.
Nou vir die wat nog nie op een was nie is ‘n ram partytjie ‘n tipe geselligheid tot eer van die ram wat oor ‘n rukkie gaan trou. Sy vriende doen die aand hulle bes om hom in 8 ure of minder, as die ram bietjie te dorstig drink, voor te berei op getroude lewe, weermag styl.
So foeter ons ook in Kaap toe oor die sonde in Stellenbosch nooit genoeg sal wees om hom onder te kry nie en land eers in ‘n Kubaanse kuierplek sonder Kubane. Het julle geweet daar is ook ooi partytjies deesdae? Wel so kuier ons toe die ooitjie en haar groepie raak op soek na onderklere vir ons ram – waar anders sal ‘n ou dit kry as geen van sy vriende ‘n ooglopende “cross dresser” is nie? Heel beskaafd – sy het 2 skaapwagters saam gehad wat gelyk het asof hulle presies weet waar om jou te skop sodat die ou kremora advertensie ook op jou van toepassing sal raak as jy iets ongeoorloof sou waag. Wat maak ‘n ram met vroulike onderklere? Hy gee dit natuurlik dadelik weer terug – weet julle wat kos daai stukkies lap deesdae. (NS, vrouens wat hier lees – net ‘n wenk, daai geld word gemors, ons hou meer van die goed op die vloer as aan die lyf en daar lyk ‘n Pep stores en Woolworths bra dieselfde).
Op soek na Kubane of iets anders beduie die “best man” (nou as hy die “best man” is hoekom trou sy met die ram) ons moet nou verskuif na Ku De Ta vir die hoofdis van die aand. Het julle al gewonder hoe lyk die VIP gedeelte van die nuwerwetse kuierplekke? Leeg my vriend, jy hoef nêrens te baklei vir staan of sit plek nie maar behalwe vir jou vrinne is daar ook nie mens om na te staar nie. Iewers deur die aand sit en kyk ons na ‘n modeparade – jip dink fashion tv in die werklikheid. Iemand begin die ram Absinthe (spreek dit sommer as “absence” uit want dit is wat gebeur as jy dit drink) te voer en in ‘n terugblik weet ek hierdie was die begin van die einde. Hoekom nooi jy die ram as jy hom nie daar wou he nie? (On)verwags daag ‘n blond op wat so arm is dat sy net genoeg klere het om nie alles te bedek wat meestal bedek moet word nie. Nou hier deel die groepie op in 3 dele – die ram, die ouens wat bang is sy maak hulle deel van die aand se aktiwiteite en dan die wat bang is sy maak hulle nie deel van die aand se aktiwiteite nie. ‘n Goeie vriendin van my het op universiteit al gesê sy sal haar man dronk maak voor sy enige huweliksaanbod sal oorweeg want in drank kom die waarheid uit…. Die blond doen haar bes om die ram se aandag te trek tot so ‘n mate dat ek later begin bang raak dat as sy haar bene enigsins weier rek dan val sy dalk deur haar eie hol of erger as sy hoër skop dan breek sy dalk iemand se kakebeen.
Nou wil julle seker weet waar eindig die storie? Wel as hierdie een van die vlakker Afrikaanse werwe was kon ek julle nou op ‘n droë manier vertel het hoe die koekie later daar weg is op soek na minder goeie ramme, maar soos hulle mos sê, wat daar gebeur bly daar.
Net ‘n nota aan bruid as iemand hierdie vir jou wys – M, jou toekomstige het hom so goed gedra dat hy nie eens nodig gehad het om hande te was nadat sy daar weg is nie. Hy is die regte een.
