Ek word elke dan en wan gevra om fotos van myself en die familie op facebook te laai. Ek moet dan elke keer verduidelik hoekom ek nie besonder gretig is om dit te doen nie. Soveel so dat ek onderstaande standaard antwoord gekryf het
——————————————————————–
Ek is maar skrikkerig vir foto’s oplaai op facebook. As jy tyd het gaan lees hulle beleid rakende JOU fotos wat jy daarop laai. Die laaste keer wat ek geloer het gee jy hulle (en al hulle verwante entiteite) die reg om enige foto te gebruik vir enige doel wat hulle goedvind sonder om jou toestemming te verkry. Nou is die vraag of dit dan so ‘n slegte ding is?
Ek dink dit hang af van hoe jy oor die lewe voel. Kom ons speel, – face book maak ‘n maatskappy oop “bum book“. Bum book nooi nou gebruikers uit om hulle sterre (holle as jy van die Noord Kaap af kom en dink ek verwys na iets in die nag hemel) af te neem en dan op die web te plaas. Nou besluit face book hulle gaan 1 van my foto’s gebruik om die nuwe webblad te adverteer.
Hulle gaan ‘n kontrak aan met die grootste bus maatskappy om ‘n foto van ‘n lekker groot kaal, harige stert(hol, Noord Kapenaars) op elke bus te sit, tesame met my foto en ‘n opskrif wat iets kan wees soos,
“I’m so happy I found bum book. Meet old friends, no Vaseline required!”.
Nou goed – miskien is ek verby die stadium waar te veel dinge my pla en daar waar die ou te groot is om te moer kan ek saam lag oor die grappies. MAAR nou gaan my kinders eendag skool toe en julle weet hoe dit daar gaan. Hulle sal natuurlik nie almal in die skool kan moer nie… Verder, iewers sal ons maatjies oornooi na ons huis toe (die wat hulle wel gemoer kan kry). Nou julle weet ook hoe mammas self die kinders kom aflaai sodat hulle darem kan sien of alles “reg” lyk by die huis. So hier kom maatjie mamma die tjokkers self aflaai en EK maak die deur oop….en soos die lewe is….met ‘n potjie vaseline in die hand….ek kan aangaan….maatjie mamma is Chuck Norris se niggie…..of nog erger Vernon Koekemoer se suster.
ns: jy is welkom om hierdie antwoord te gebruik – dit sal wel lekker wees as jy terug verwys na hierdie webwerf…
