Ek gesels die anner dag met iemand wat aftrede nader op dieselfde manier as die dinosourus-uitsterf-meteoriet die aarde genader het ‘n paar jaar gelede. Met ander woorde teen ‘n moerse spoed en met die wete dat dit met pyn en leiding gepaard sal gaan.
Die gesprek het gedraai rondom langtermyn versekering – die soort waarvan jy dan eendag (honde)kos en drank koop as jy nou die uiteindelik toegelaat word om af te tree. Nie seker of julle al die voorreg gehad het om deur die proses te gaan nie – van langtermyn versekering uitneem, nie aftree nie. Gegrond op die gesprek en eie ervaring dan ‘n kort opsomming met ‘n bietjie advies daarby ingemeng.
Eers is daar vorms, hoeveel drink jy, hoeveel vloek jy, hoeveel rook jy, hoeveel slaap jy rond, glo jy aan stort as vigs voorkoming, die soort van ding. Dit is nou om te sien hoeveel jaar hulle het om geld te maak uit jou en hoeveel jaar hulle dan sal moet betaal vir jou. Die beste van alles is dit maak nie saak wat jy hier verklaar nie die manne gaan dink jy praat twak en jou laat toets. Ek praat van naalde en bloed en ander middel-eeuse martel tegnieke, nie beskaafde goed soos poligraaf toetse of beloof op die bybel nie. (Tipies wil hulle he jy moet hulle vertrou met jou geldjies, maar jy boeta kan gaan kak as jy dieselfde behandeling versoek)
Hierna soek hulle ‘n opsomming van al jou geld. Dis nou om te sien hoeveel hulle per maand by jou kan vat. Dit maak ook nie saak wat jy gedink het jy reg doen nie hulle sal altyd fout vind om iets aan jou te verkoop. Nou, advies in die vorm van ‘n grappie. Die polis-smous(deesdae ‘n finansiele adviseur) kom op die plaas by die boer en verduidelik hom wat ‘n polis is en hoekom hy een moet vat. Om dit makliker te maak vir die boer om te besluit sê hy ook hy verkoop 2 pond, 5 pond en 10 pond polisse. Die boer beduie toe hy sal ‘n 2 pond polis neem. Nadat die smous ‘n vertoning gemaak het van in sy briewetas krap sê hy vir die boer “Jy sal my nie glo nie maar ek het net 10 pond polisse oor.” As jy nie weet hoekom dit snaaks is (of kan wees nie) moet jy iemand kry om jou te help…
Nou as jy deur ‘n geregistreerde (bedrieg, maar binne sekere reels) agent werk en ‘n geakrediteerde(steel, maar doen dit openlik) instelling dan is daar ‘n paar goed wat ek net aan jou wil uitwys. Die agent sê jou vooraf hoeveel geld hy gaan vat en ek het aanvanklik gedink dit is ‘n grappie…wat dit nie is nie. Dan gee hulle vir jou ‘n kontrak oor wanneer en hoeveel hulle sal betaal en jy beter die lotto-wen-geluk persoonlikheid he anders sien jy nooit jou geld terugkom na jou toe nie. Dan laastens gebruik hulle ‘n paar aannames (hulle “dog” dus iets in die toekoms) om jou te wys wat hulle dink jy gaan kry in x aantal jaar. Nou dit word dan “slegs vir illustratiewe doeleindes” genoem wat in plat Afrikaans beteken ons praat bietjie kak met jou om jou beter te laat voel oor jy elke maand vir ons geld gee vir ‘n “miskien, as, uitgesluit ens”. Dink hieroor, selfs die kerk bied jou die hemel maar die manne bied jou in der waarheid net illustratiewe(sien jy die “illusie” in die woord?) doeleindes…
Wat my by die volgende stukkie advies bring. Kies jou geregistreede adviseur jonk en gesond sodat hy/sy nog daar is om gebliksem te word as jy die dag aftree en die illustratiewe waardes toe uitdraai as “slegs vir”.
Ter afsluiting van die tee-koppie storm – of jy nou die helpende hand van die vrou op die straathoek kies of enigeen anders se hand, daar is voordele en nadele aan verbonde…leef daarmee
