Ek lees gisteraand “eerste 100 diere” vir die kroos voor en met die 1ste lees, is daar al heelwat wat ek kan kwytraak oor die boek. Ek maak sommer aan die begin ‘n stelling sodat die bekvegters my onmiddellik kan kruisig en nie nog tyd hoef te mors om die lang artikel te lees nie….party mense luister mos net om ‘n antwoord te kan gee en nie om te verstaan nie.
Stelling – hierdie boek (en so ‘n paar ander) is sekerlik geskryf deur mense wat nie kinders het nie en/of lede is van die “WTF” beweging. PS: WTF is nie die ouens wat na moeder natuur kyk nie en verder is die boek vertaal so die Afrikaanse WDF beweging het dalk nie hand in die een nie.
Nou net as agtergrond vir die wat nie kinders het nie/nie die boek gelees het nie. Die boek het ‘n paar prentjies in en elke prentjie het dan die naam van die dier wat op die prentjie verskyn
bv.
HOND
Nou die 1 ste probleem wat ek het is die foto keuse wat gemaak is om die diere die 1ste keer aan jong mensies bekend te stel. Daar is die foto van ‘n brommer maar goedgunstiglik word dit ‘n “vlieg” genoem. En kyk na die een van die volstruis wat begin ‘n handbreedte onder sy kop en dan is sy bek ook nog oop soos ‘n vis op droë grond. Hoe vertel jy nou vir die kroos hierdie was die grootste voël gewees totdat pa die boek opgemaak het en die skrywer “ontmoet” het. Wat van die foto van TWEE walvisse (beskrywing WALVIS) wat geneem is met die 1 se kop amper in lyn met die ander 1 se stert soda dit lyk asof die stert die kop uitk…kom ons los dit eerder. NS: Die artikel is gemerk PG13, maar dit is dalk meer opvoedkundig as van die kinderboeke…
Nou Afrikaanse name vir van die DIERE (waarby hulle nou sommer voëls, visse en insekte ingesluit het) is ook maar soms moeilik om te verduidelik. “Papegaaiduiker” duik glad nie papegaaie nie, wasbeer beteken nie gaan haal die Omo nie ens.
Dalk is ek maar net ‘n slagoffer van my eie kreatiwiteit maar soos ek nou die name noem maak ek dan sommer die dier se geluid na. Hond: Woef,; Kat: Miaau; Skapie: Mee Dit is klaar moeilik genoeg om ‘n onderskeid te tref tussen die vroulike koei se Moeeoo, die kaller se moooooo en die bul se MOOOO aangesien Moo nie my 1ste taal is nie.(selfde probleem met Mee). Alles loop goed tot ek omblaai en op die Australiese diere bladsy beland – ek sou dink die skape op bladsy 1 was genoeg?
Nou tot ek die boek gelees het sou niemand my kon oortuig ‘n kookaburra is iets anders as ‘n krieketbat nie. Weer vir die ongeletterdes – dit is ‘n klein astrante voeltjie – dink “bodybuilder”. Gelukkig fluit alle voeels mos, so ‘n fluitjie met ‘n Australiese aksent word voorgehou as die burra se geluid. Die probleem lê by die insluiting van die eendbekdier, of platypus in Engels. Nou vir die van julle wat nie weet nie(soos oorvertel aan my), raak ‘n eendbekdier mannetjie in paartyd so buite homself van lus dat sommige hulself dood n sterf. So watter geluid dink jy maak ‘n eendbekdier? Ek dink natuurlik onmiddellik aan laataand E-TV program geluide….Ek kan probeer om my hand voor my mond te hou om die geluid effens te demp. Dink gesig in die kussing of kardoes oor die kop klanke, die ding het dan ‘n eend se bek!
Gelukkig stap die wyfie die kamer in en ek besluit om maar eerder die bladsy oor te slaan. Ek weet net nie wanneer die kroos dit gaan begin agterkom nie.
So as jy ‘n kinderboek skrywer is wat hierdie lees – DINK WDF JY DOEN VOOR JY IETS UITGEE.
