Ou Japie was nooit op sy gemak in die omgewing van dames nie. Hy het net broers gehad as familie. Hy was in ‘n tegniese skool vir seuns, het gaan leer hy vir werktuigkundige waar daar net mans was, en selfs by die werk is daar net mans in die werkswinkel. Die enigste vrouens is in die kantoor, waar hy omtrent nooit gekom het nie.
Dit was nou tot die dag wat Sannie by hulle begin werk het…
Nou Sannie was die mooiste mens wat Japie nog ooit onder oë gehad het. Vir maande het hy planne beraam en moed bymekaar geskraap om met haar te gaan praat. Na hy uiteindelik die moed bymekaar geskraap het, steek ‘n nuwe probleem sy kop uit. Nes Japie naby die kantoor kom voel hy ‘n beweging hier in sy lende, iets wat dreig om ‘n knop in sy broek te maak…
Gelukkig het werktuigkundiges altyd ‘n plan en hy plak sy probleem met goeie maskeerband vas aan sy bo-been. So ge(be)plak gaan gesels Japie met Sannie by haar lessenaar. Japie voel beweging, maar die maskeerband hou vas wat vasgehou moet word en Japie is so beïndruk dat hy sommer vir Sannie uitvra op ‘n ete en fliek afspraak.
Die afspraak was die Vrydag en die Saterdagoggend bel sy ma hom, wat al jare hoop hy kry iemand, om te hoor hoe dit gegaan het. Japie klink maar swaarmoedig en sy ma wil weet wat fout is. Japie vertel toe maar alles:
Hoe hy sy probleem so styf aan sy been vasgeplak het dat hy amper die bloedtoevoer afgesny het. Hoe hy aan Sannie se deur geklop het en toe dit oopgaan staan sy droom vrou daar. Sy was ‘n engel so na sy hart in haar visnetkouse en kort, kort, kort, kort rompie en stywe, stywe, stywe frokkie.
Japie raak toe so bietjie stil, ‘n seun sê ook nie alles so maklik vir sy ma nie.
“En toe?” vra sy ma.
Japie sug, “Toe skop ek haar in die gesig ma.”
