Behulpsame Darling boere
Ek was vir jare ‘n naweek-kroegman op Darling gewees om studente sakgeld vir Stellenbosch te verdien. Die Darling Golfklub of “Die Dam” soos dit bekend staan is maar meestal deur die Darling boere ondersteun. Dit was nie moeilike werk nie want die manne het maar min kreatiewe drankies gedrink en meestal net goed waarin die woord “dubbel” voorgekom het.
Afhangend van hoeveel “dubbel” drankies daar dan al die aand gebruik is het die stories al beter en beter geraak(tot op ‘n punt waar die teenoorgestelde natuurlik begin gebeur). Een van die wat ek onthou volg.
Twee Darling boere gaan kyk die Saterdag rugby op Nuweland. Selfs in daai tyd kon WP nie ‘n wedstryd wen nie en die boere gebruik vrylik van die brandewyn om die pyn van na WP kyk te verminder. Die aand op pad terug Darling toe stop hulle langs ‘n ou wat moeilikheid het met sy motortjie en daar word besluit hulle sal sy motortjie insleep Darling toe waar dit die volgende oggend reggemaak kan word.
So hou die boere aan met kuier in die bakkie want die brandewyn moet op voor hulle by die huis kom want more is Sondag waarop daar nie brandewyn gedrink mag word nie. Na ‘n paar kilometer sê die een boer vir die ander een hy moet vinniger ry want hier is ‘n karretjie wat heel tyd op hule gat sit en dit werk op sy senuwees. Natuurlik hou die gesleepde voertuig by en die boere besuit hulle sal maar net nog vinniger ry. So gaan dit aan tot op ‘n punt waar die ou agter begin ligte flits en dit is natuurlik soos olie op die vuur vir die boere. Die Izuzu is later al op top spoed en die ou agter het nou al ligte, toeter en handrem (die remme was blykbaar een van die motortjie se probleme) gebruik om die manne te probeer oortuig om stadiger te ry.
Al wat dit regkry is om die boere te ontstel want netnou is dit ‘n spietkop dan is hulle in drinkersmoeiliheid. Nou op ‘n Saterdagaand deel jy dalk die polisiesel met van jou plaaswerkers en jy sal natuurlik nooit die einde daarvan hoor in Darling nie. Die boere besluit hulle sal maar stadiger ry en dan waar die teerpad en koringland skouer aan skouer loop sommer deur die doringdraad die land in jaag want hulle kan sien daai motortjie wat hulle agtervolg sal nie kan loop waar die Izuzu loop nie. So gedink so gedoen en hulle is daar iewers tussen Malmesbury en Darling deur die doringdraad ‘n koringland in met die motortjie agterna.
Ek het daai dag die twee boere in die storie in die kroeg bedien maar die ou in die motortjie het ek nooit ontmoet nie al het hulle my verseker hy was weer heeltemal “ok” na ‘n halwe bottel brandewyn.










Gesels saam!