Ons nooi vriende, wat vir ‘n paar dae uit Guernsey hier is, om Saterdag aand by ons te kom braai. Ek dink toe dit sal goed wees om hulle te herinner hierdie is donker Afrika met die dat dit natuurlik ook “earth hour” of aarde uur gaan wees teen die tyd wat die vleis reg is om te eet. Ek dra dan sommer addisioneel by tot die projek deurdat 1 volle huisgesin by ons gaan wees en dus nie krag by hulle eie huis gaan gebruik nie en ek het dan ook sommer ‘n rugsteun as die vleis en die kroos tesame aandag soek.
Die buurman kom ons gelukkig herinner dat dit nou offisieel aarde uur is en ons moet ons ligte afskakel. Soos ou oorlede Jan Spies sou sê “ Dit smaak my mos” dieselfde buurman loop ook die hele landgoed deur en donkerte volg hom waar hy gaan amper asof hy die engel van alle donkerte is en die einde van die lig aangebreek het. Aarde Uur (AU) is al halfpad verby voor die landgoed se mense die straatligte se skakelaar opspoor en maak dat ons niks kan sien op die rooster nie (dalk weer/steeds buurman?) Ns, is battery beter vir die aarde as elektriese lig?
Nou sit ek vandag en wonder hoeveel het hierdie regtig die aarde gebaat en voor jy antwoord oorweeg onderstaande los gedagtes.
In die opbou tot aarde uur is daar talle addisionele eposse en web besoeke en posterings gemaak om almal te laat weet van en inteken op die “maak donker Afrika donkerder projek”. Net vir julle wat nie die argument deurvolg nie – die internet loop op pornografie en elektrisiteit. In SA kon hulle dalk sommer direk met Eskom gaan praat het, dit sou heelwat moeite en energie gespaar het.
Soos enige goeie kapitalis het heelwat entrepreneurs ook addisionele werk gedoen om deel te he aan die aarde uur guur. So hier gaan ons, ons ry winkel toe, 1 persoon per voertuig, ons koop ‘n AU kaartjie en AU Chinese gemaakte teddiebeer om aan iemand te gee. Die Chinese het hulle nog simpler gewerk om betyds alles klaar te kry en in plaas van 2 ure slaap met die ligte af het hulle sommer vir 2 weke aaneen deur die nagte gewerk aan die speelgoed. Die speelgoed wat gemaak is van ander onnatuurlike goeters uit die Chinese stal natuurlik, wat weer die goetermakers gedwing het om oortyd te werk… Nou betaal ons met ons kredietkaart en die masjien weier die kaart wat die winkel noodsaak om die bank te bel en aan te hou en aan te hou en aan te hou omdat sommige banke jou dwing om met dieselfde onnosel doos te praat wat die telefoon geantwoord het want ons nuwe beleid van “een oproep waar ons weier om jou deur te plaas na iemand wat die werk kan doen is soveel beter kliënte diens as enige ander vorm van foltering waardeer ons jou vantevore geplaas het.” In die gejaag na die winkel vergeet ons, ons eko vriendelike sak by die huis en koop sommer daar ‘n plastieksak om die beer vol omgewingsonvriendelike goeters in rond te dra. By die huis gekom skeer die bier die sakkie en dit waai weg in die wind voor ons dit kan keer en vir die volgende 200 jaar verwurg dit 12 boompies, 3 eende en 1 muishond waarna dit 1 oggend verband word en die gat in die osoonlaag vergroot.
Die kaartjie raak weg maar vir die volgende paar jaar word die beer dan en wan gewas as die hond oor die ding kots nadat hy en die beer se binne goeters nie lekker oor die weg kom nie.
Saterdag aand met die afsit van die ligte begin al wat sekuriteitswag is natuurlik ook rondloop en op sy 2 rigting radio te praat terwyl die helikopters, vangwaens, motorfietse en perde staan en luier buite, reg vir vinnige gebruik as die nag skelms toelsaan in die uur waarvoor hulle al heel jaar lank bid.
Vir die van julle wat voel ons betaal iewers iets vir elke slegte ding wat ons doen -Ek loop in die donkerte in die kas vas en vloek minstens ‘n kwarteeu se olie weg voor ek weer my pad buitentoe vind waar ek in die donker aan die warm rooster vat en die volgende kwarteeu se olie laat verdamp.
Later die aand, lank nadat aarde uur al verby is sien ek die (pasgetroude) buurman se ligte het nog nooit weer aangeskakel nie. Dalk is hy moeg geloop want die landgoedere is nogal groot, dalk het hy verdwaal in die donkerte en gaan die SAPS hom nou weer moet soek. Dalk moet ek hom vertel hoe sleg weggooibare doeke vir die aarde is.
Ek begin oor aarde uur te voel soos ek oor Valentynsdag voel. Dit is baie spesiaal vir almal behalwe as jy ‘n blom is….
Ns: Jy is welkom om hierdie te gebruik…dit sal natuurlik lekker wees as jy erkenning gee aan hierdie webwerf.

Laaaanng pos, maar goed