Die twee eerstejaars trap oor die tou en besluit om die nooi se ouers die naweek op die plaas te gaan vertel. Die hele aand wroeg die kêrel oor hoe hy vir skoonpa oor hul lot gaan vertel, maar hy kom nie sover om dit gedoen te kry nie.
Die nag slaap hy sleg en die volgende môre is hy vroeg op. Hy is heel verbaas om oral op die werf net Toyotas te sien. In die motorhuis staan ‘n Camry, onder die boom ‘n Hilux bakkie en in die stoor ‘n Land Cruiser. Selfs die plaas se naambord is geborg deur Toyota. Terwyl hy hom so verwonder, groet die oom hom skielik. Die kerel skrik hom flou en besef dit is nou of nooit.
“Toyotas het baie goeie masjiene. Hul ratkaste gee nie in nie. Die Land Cruiser se vere kan jy maar laat werk. Die onderstelle hou vir ewig. En selfs in die winter sukkel ‘n mens nie om die Toyotas te start nie,” sê die oom.
Waarop die kêrel vinnig antwoord: “Oom se dogter is seker ook ‘n Toyota. Ek het haar net so ‘n ligte stootjie gegee, toe vat sy.”
